Wildbedryf: Romantiek én Pragmatisme die Wenkombinasie
Author: Carla van der Vyver (SAPA)    Publication Date: 21 August 2016

Facebook Twitter Google +

 -

In 'n betreklik gebalanseerde artikel in die Landbou Weekblad van 29 Julie 2016 ("Namibië se jagbedryf troef SA") word die verskraling in die Suid-Afrikaanse jagbedryf bespreek en aan 'n bondel faktore toegeskryf. Oorregulering en 'n gebrek aan staatsondersteuning word genoem. Suid-Afrikaanse teelmetodes en jagpraktyke in teenstelling met die beeld van hoë etiek wat in Namibië voorgehou word, word egter as die vernaamste sondebok uitgesonder.

Dis jammer as jagtersorganisasies in Suid-Afrika, en vanuit 'n gewaardeerde buurland, hulle stemme voeg by fanatiese diereregteaktiviste en 'n oningeligte media wat die wildbedryf in ons land na hartelus verguis. Die industrie verdien baie beter. Die wild- en jagbedryf in Suid-Afrika het op eiesoortige manier 'n ommeswaai in die bewaring en bestuur van wildgetalle teweeg gebring. Dit is, sonder om te oordryf, een van die groot bewaringsprestasies in die geskiedenis van die wêreld. Miljoene hektaar grond is teruggewin vir natuurgebruik en 'n aantal spesies is van uitwissing gered en op 'n gesonde grondslag geplaas. Dit onderhou miljoene wilde diere, dra stewig by tot die land se ekonomie en verskaf werk aan sowat 100,000 mense.

Hierdie groot prestasies moenie klakkeloos weggepraat word weens 'n aanpassing in populêre opvattings nie.

In die artikel word die skreiendste aanklagte gebring deur Tanja Dahl van die Namibiese Beroepsjagtersvereniging. Sy veroordeel namens Namibië die jag van geteelde leeus, blikjag, die "kunsmatige teling van wild vir die jagbedryf en die makmaak van wilde diere." Sy belig dit in teenstelling met die Namibiese beginsels want dié "vind aanklank by die etiese aard van tradisionele jagters met 'n liefde vir die natuur."

Die aanname is dat die diere wat in Namibië gejag word, onbelemmerd op uitgebreide gebiede rondloop, waar hulle leef sonder die bemiddeling en sporadiese ingryping van die mens, in teenstelling met Suid-Afrika waar wild in klein kampies geteel word om as jagprooi te dien.

Dahl se grootste kommer is dat "... hierdie afskuwelike en afstootlike praktyke, wat groot finansiële gewin tot gevolg het, van Suid-Afrika na Namibië sal oorspoel..."

Haar vrese is inderdaad reeds bewaarheid – geruime tyd al. Wild word in 'n bestendige stroom oor die grens tussen die twee lande vervoer, bestemming: Namibiese jagplase. Njalas, blesbokke en swartwildebeeste word na willekeur in Namibië gejag, en tog kom nie een van dié spesies natuurlik daar voor nie.

Namibië is een van die ylste bevolkte lande op aarde. Groot dele is onherbergsaam vir mens en jagwildspesies, maar daar is wel ruimte vir diere om grootliks vry te beweeg. Hierdie is 'n bate vir die jagbedryf in dié land en moet regtens met ywer bemark word. Die jagbedryf in Namibië sal egter stagneer as hulle nie geteelde wild jag nie. Die versiende jaguitrusters besef dit reeds en daarom word jagdiere van Suid-Afrika af ingevoer.

Hierdie is egter nie 'n skande nie. Dit is 'n weldeurdagte, legitieme, doeltreffende maatreël en die praktisyns daarvan verdien 'n skouerklop eerder as 'n agterwêreldskop. Dit is hoogtyd dat jagorganisasies nie langer toelaat dat hulle opvattings vir hulle deur diereregteaktiviste voorgeskryf word nie. Die Suid-Afrikaanse wildbedryf het 'n suksesvolle model ontwikkel waarvolgens dieregetalle verseker word, die jagmark behoorlik gediens word en die wildelewe-omgewing grootliks bewaar word. Dit is iets om op trots te wees.

Ons almal hunker na 'n Afrika wat meeste van ons nooit geken het nie, waar diere in ontsaglike getalle kon rondbeweeg sonder om ooit deur mens of draad gestuit te word. Helaas, daardie Afrika bestaan nie meer nie, en, 'n enorme kataklismiese gebeurtenis uitgesluit, sal hierdie vasteland nooit weer so wees nie. Ons sal dwaas wees om dit te probeer herskep, en ons wil. Jagorganiseerders, wildboere en beroepsjagters moet die versugting van 'n onhaalbare romantiese ideaal temper met pragmatisisme.

Indien wild verkeerd geposisioneer word in die sake van die wêreld, sal die wilde diere dit nie oorleef nie. Wild se regte plek is as produkte van die land; weliswaar, om Ron Thomson by te haal, wilde produkte in teenstelling met vee wat mak produkte van die land is. Produkte nietemin. Eers as ons die regte benaderingsaanpassing gemaak het, kan wild wetenskaplik, suksesvol en winsgewend bestuur word. In Suid-Afrika is daar net nie meer ruimte vir ekstensiewe wildboerdery nie, en het die wildeienaars hulle noodwendig gewend tot intensiewe boerdery.

Daar is vir die oorgrote meerderheid wildspesies in die land geen daadwerklike verskil tussen ekstensiewe of intensiewe teling nie. Dit is vergesog om te sê dat 'n buffel wat in 'n ruie kamp van 400 hektaar leef 'n swakker lewensgehalte ervaar as in 'n gebied van honderde duisende hektare. Solank daar genoeg kos, water en tropteenwoordigheid is, is die buffel tevrede.

Wat jagvereistes betref, kan ons die mark vertrou om die standaarde en regverdigheidsbeginsels uit te sorteer. Die dae van die blikjag van leeus in piepklein kampe of teen grensdrade is verby omdat die mark dit verwerp het. Die Amerikaner wat 'n leeu kom jag, wil uiteraard 'n storie hê om te vertel. Soos Dave Erdmann wat onlangs drie leeus anderkant Stella kom neertrek het. Agter net die een leeu aan het hy en sy beroepsjagter 36 kilometers gestap – sonder om 'n enkele keer 'n grensdraad te sien. Die leeu was wild en onstuimig en dit het geduld en staalsenuwees gevat om hom suksesvol te jag.

Die wildboer is noodgedwonge ook 'n entrepreneur en besef terdeë dat die eerste reël van gehaltebeheer die bevrediging van markbehoeftes is. Dit is die regte en pragmatiese stap om boere toe te laat om gesogte wild te teel en vir die jagmark aan te bied. Dit sluit die teel van leeus, kleurvariërende diere en diere met beklemtoonde trofeewaarde soos groter horings in. Solank die dier se lewenservaring nie belemmer word nie en dit 'n vinnige, menslike, waardige dood sterf, sou dit dwaas wees om idealistiese beperkings op teelmetodes af te dwing.

Te veel besluite rakende wild word emosioneel eerder as vir pragmatiese redes geneem. Wat ons diere dringend nodig het, is mense wat die vermoë het om die regte stappe ewewigtig en beredeneerd te neem.

 



Article Index  Back to Top


© South African Predator Association. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published without the written consent of the South African Predator Association.